Covid-19-samevatting: Eerste myner toets positief

myn staking mynhoed

Argieffoto

ʼn Mynwerker by Dwarsrivier-myn digby Burgersfort in Limpopo het positief vir Covid-19 getoets. Só het Riaan Burger, die hoofbestuurder van die myn, Dinsdag bevestig.

Volgens Burger was dié mynwerker getoets voordat sy op haar skof gegaan het. Dié werknemer is tans in selfisolasie.

Moses Cloete, adjunkdirekteur van die Bench Marks-stigting, sê die moontlikheid is groot dat sy in kontak met haar medewerkers was voordat sy getoets is.

“Simptome kan eers oor tien tot 14 dae by medewerkers of gemeenskapslede begin verskyn. Ons versoek ’n dieper, breër sowel as dringende optrede van die bestuur van die myn om die gesondheid en welstand van werkers en die gemeenskap te verseker,” sê Cloete.

Cloete waarsku dat die gedeeltelike heropening van myne wat nie gekontroleer word nie, tot gevolg kan hê dat die virus soos ’n veldbrand onder mynwerkers kan versprei.

Meer hospitaalbeddens beskikbaar gestel

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die departement van infrastruktuurontwikkeling beoog om meer hospitaalbeddens en -sale beskikbaar te stel as deel van ʼn noodplan om te poog om die Covid-19-pandemie tydens die komende wintersmaande te beveg.

Tasneem Motara, LUR van infrastruktuurontwikkeling in Gauteng, het tot dusver agt konstruksieterreine van spesiale Covid-19-kwarantynafdelings by verskillende gesondheidsinstellings reg oor die provinsie besoek in afwagting op die verwagte ernstige Covid-19-gevalle wat hospitalisasie en selfisolasie mag verg.

Gauteng beoog om altesaam 3 056 beddens by sy fasiliteite te voorsien, asook om 1 126 beddens by eksterne entiteite aan te skaf. Die oprigting van spesiale Covid-19-sale binne bestaande hospitale en klinieke volg op ’n besluit van die Gautengse provinsiale bevelraad om dringend gesondheidsinfrastruktuur uit te brei ten einde gereed te wees om die groeiende aantal pasiënte te akkommodeer. Dit volg na die departement van gesondheid sy kommer uitgespreek het dat die bestaande gesondheidsfasiliteite nie die verwagte aantal pasiënte sal kan hanteer nie.

Bongiwe Gambu, woordvoerder van die departement van infrastruktuurontwikkeling, het bevestig dat tientalle sale in intensiewe sorgeenhede en afsonderingsafdelings in die George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa omskep word. Altesaam 13 sale gaan in dié hospitaal opgeknap word.

Twee sale by die Tshwane-distrikhospitaal in Pretoria-Sentraal en talle sale in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto gaan opgeknap word. ʼn Saal by die Discoverers Community Health-sentrum in Florida word ook in ʼn intensiewe sorgeenhede en afsonderingsafdelings omskep.

’n Tydelike kwarantynfasiliteit met 12 beddens is ook onlangs by die Mamelodi-hospitaal in Tshwane gebou.

Bykomende ruimte word ook by eksterne fasiliteite ingerig, soos onder meer by die 500-bed-NASREC-fasiliteit in Johannesburg. Die AngloGold Ashanti-hospitaal in Carletonville met 175 beddens gaan ook opgeknap word.

“Ons berei vir die ergste voor. Ons is bedag op die potensiële impak van ’n groter vraag na gesondheidsfasiliteite en werk onverpoos om daarvoor gereed te wees, ” sê Motara.

Richard Makhumisani, waarnemende departementshoof, het gesê sommige van dié beplande projekte sal teen middel Mei gereed wees vir oorhandiging.

Shoprite bevestig nog 3 positiewe gevalle

Drie winkels van die Shoprite-kleinhandelgroep het positiewe Covid-19-gevalle aangemeld (Foto: Tracey Adams, ANA)

Die Shoprite-kleinhandelsgroep het Dinsdag bevestig dat nuwe Covid-19-gevalle by Checkers-winkels in Kenilworth en Constantia asook by die Shoprite-winkel in Woodstock in Kaapstad aangemeld is.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur dié kleinhandelsgroep is al drie die winkels sedertdien gesluit. Die Kenilworth-winkelsentrum is tydelik heeltemal gesluit.

Dié drie winkels is intussen ontsmet en skoongemaak en kontak is gemaak met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) en die nasionale departement van gesondheid.

Die winkels sal in oorleg met die provinsiale departement van gesondheid heropen word.

Positiewe Covid-19-gevalle is die afgelope ses weke in 17 verskillende winkels van die Shoprite-groep aangemeld.

Sowat ʼn maand gelede het die Shoprite-groep mobiele klinieke in werking gestel en werkers se temperatuur word deesdae daagliks geneem wanneer hulle vir diens aanmeld. Dit dien as bykomende maatreëls om nie net sy werkers nie, maar ook klante teen Covid-19 te probeer beskerm.

Nomafrench Mbombo, LUR vir Wes-Kaapse gesondheidsorg, het gesê dit lyk asof winkels wat voedsel verkoop “die nuwe teelaarde vir die virus” is.